Die burgerregte-organisasie AfriForum het Saterdag die Joe Gqabi Distriksmunisipaliteit geloof nadat die munisipaliteit stappe gedoen het om die storting van rou riool in die Oranjerivier te staak.
Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Oos-Kaap, het gesê rou riool uit ʼn mangat in Aliwal-Noord vloei al vir langer as ʼn jaar direk in die Oranjerivier. Van Dalen het verskeie gesprekke met amptenare van die Maletswai Plaaslike Munisipaliteit en die Joe Gqabi Distriksmunisipaliteit gevoer in ʼn poging om die besoedeling te stop.
Fiona Sephton, direkteur van kommunikasiedienste by die Joe Gqabi Distriksmunisipaliteit, wat ook tans as munisipale bestuurder waarneem, was dadelik gewillig om ʼn onmiddellike oplossing vir die probleem te vind, het Van Dalen gesê.
“Sephton het [Donderdagmiddag] bevestig dat ʼn gekontrakteerde riooltrok weer voltyds besig is om riool te pomp. ʼn Kontrak wat van 17 Desember 2015 tot 17 Januarie 2016 geldig is, is aan ʼn maatskappy toegeken om riool uit die mangate te pomp. Die betrokke partye is tans in gesprek om die kontrak te verleng,” het Van Dalen gesê. “Volgens Sephton skep die rioolpyplyn in Aliwal-Noord al vir ʼn geruime tyd ʼn probleem, omdat dit baie oud is en lekplekke en blokkasies dus gereeld voorkom. ʼn Hoëdrukspuit word deur die munisipaliteit ingespan om die pypleiding oop te spuit.”
Volgens Van Dalen is bouwerk reeds aan die gang om ʼn nuwe pompstasie op te rig en die foutiewe pyplyn te herstel. Dit sal na verwagting teen 31 Maart vanjaar afgehandel wees.
“Sephton het verduidelik dat die kontrakteur wat vir die rioolpompwerk verantwoordelik is, nagelaat het om die pyp uit die mangat te verwyder. Sy het gesê dit het die munisipaliteit onkant betrap toe water weer skielik in die stelsel begin vloei het nadat die Oranjerivier, wat opgedroog het, weer begin loop het en die mangate dus weer oorgeloop het,” het hy gesê.
“Munisipale gesondheidsdienste monitor die mangate op daagliks, aangesien hulle besef dat dit ʼn ernstige gesondheidsgevaar vir mens en dier inhou. Selfs nadat ʼn permanente oplossing vir die probleem gevind is, sal die mangate steeds vir drie maande gemonitor word.”
Van Dalen het Sephton geloof vir haar bereidwilligheid om saam met AfriForum te werk om ʼn permanente oplossing vir die probleem te vind. “Ek vind dit verblydend om nog ʼn amptenaar in ʼn munisipaliteit raak te loop wat steeds ʼn passie vir haar werk het en werklik die belange van die inwoners op die hart dra,” het hy gesê.

