Twee mense is dood nadat hul voertuig Sondagoggend gerol en in ʼn rivier in Pietermaritzburg beland het.
Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het in die vroeë oggendure naby Alexandra Park gebeur.
“Toe paramedici by die toneel opdaag, het die motor op sy dak in die water gelê,” het Bodasing gesê. “’n Omstander het paramedici gehelp om die bestuurder, ʼn man, vermoedelik in sy 20s, uit die motor te kry. Hy was bewusteloos en paramedici het hom bygebring en na ʼn hospitaal gehaas. Hy is ongelukkig in die hospitaal dood.”
Volgens Bodasing was ʼn vrou wat in die voertuig was, reeds dood en reddingswerkers het haar liggaam uit die motor verwyder. Twee ander vroue wat ook in die voertuig was, is beseer en is ook na ʼn hospitaal geneem.
Owerhede was op die toneel om die ongeluk te ondersoek.