Polisiebeamptes in Grassy Park in Kaapstad het ʼn tienerseun in hegtenis geneem, nadat ʼn bendelid buite ʼn winkel in Parkwood in die stad geskiet is.
Konst. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê die seun (17) is glo ʼn lid van die Junky Funky-bende. Hy is in hegtenis geneem nadat ʼn lid (42) van die Americans-bende Donderdagaand buite ʼn winkel in Blackbirdlaan geskiet is.
“Volgens inligting was die slagoffer saam met ʼn vriend by die winkel, toe ʼn man op hulle afgestap en hom geskiet het. Hy het skietwonde aan sy been opgedoen en is na die hospitaal geneem vir behandeling,” het Rwexana gesê.
Die tiener sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord.