
Soldate poog om weer beheer te kry van die hotel Foto: @ajenews, Twitter
ʼn Vierde aanvaller is Saterdag dood ná militante Vrydagaand ʼn luukse hotel in Burkina Faso se hoofstad beset het. Volgens owerhede is minstens 23 persone dood.
Die aanvaller is in die Yibi-hotel dood, naby aan Splendid Hotel, waar sekuriteitsmagte 126 gyselaars bevry het. Drie aanvallers is vroeër Saterdag dood, het die land se sekuriteitsministerie, gesê. Twee van die aanvallers was vroue.
Die 23 slagoffers is van 18 verskillende lande, terwyl 40 ander persone behandeling ontvang in groot hospitale in Ouagadougou.
Gilles Thibault, die Franse ambassadeur in Burkina Faso, het egter op Twitter aangedui minstens 27 persone is dood.
Die Splendid Hotel, wat naby aan die stad se internasionale lughawe geleë is, huisves gereeld toeriste van die Weste, insluitend VN-personeel en verslaggewers.
Die al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb het die hotel aangeval.
ʼn Egpaar van Oostenryk is intussen Vrydagaand in die land se noordelike streek, aangrensend met Mali, ontvoer.
Lees alle vorige berigte oor Burkina Faso op Maroela Media.