
President Jacob Zuma (15 Januarie 2016) Foto: GCIS
Pres. Jacob Zuma het Vrydag gesê Suid-Afrikaners kan nie glo dat ʼn man wat nooit skool toe gegaan het, president is nie, en daarom moet hy 24/7 aangeval word deur persone wat nie ʼn waardering het vir dit wat gebeur nie.
Zuma het ʼn afskeidsboodskap gelewer aan 19 studente wat by die Amerikaanse universiteit in Nigerië gaan studeer deur middel van beurse wat deur die Jacob G Zuma-stigting geborg word. Hy het ook tydens die geleentheid ʼn tjek van R500 000 van sy stigting aan die SA Nasionale Weermagopleidingsfonds oorhandig.
Zuma het gesê die feit dat hy nie formele skoolopleiding gehad het toe hy jonk was nie, was die sleutel om die opleidingstrust op te rig. “Die kwessie van opleiding is ʼn kritieke saak vir ons land,” het hy gesê. “Daar was ʼn baie doelgerigte program om die meerderheid uit te sluit [van opvoeding]. Sedert die einde van apartheid het die regering gepoog om seker te maak dat niemand uitgesluit word wanneer dit by opleiding kom nie.”
Zuma het die media daarvan beskuldig dat hulle nie witmense kritiseer wat nie die vereiste kwalifikasies het nie. “Ons is so onregverdig met onsself, veral met swartmense. Daar is nie media wat ʼn enkele wit persoon aanval nie. Een persoon was onlangs in ʼn amp, met slegs matriek en hy was die waarnemende uitvoerende hoof. Dit was nie ʼn groot saak nie. Jy kan jou net indink as dit iemand anders was.”
Nico Bezuidenhout, uitvoerende hoof van Mango-lugredery, is aan die einde van 2014 vir ses maande aangestel as die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugredery (SAL). Dudu Myeni, voorsitter van die raad van SAL, is ook uitvoerende voorsitter van die Jacob G Zuma-stigting.
Armoede kan slegs deur die grondkwessie opgelos word
Zuma het ook gesê indien die voortslepende kwessie van grondeienaarskap nie opgelos word nie, sal Suid-Afrika steeds sukkel om armoede, ongelykheid en werkloosheid aan te spreek. Hy het gesê hierdie kwessies word direk gekoppel aan die grondkwessie.
“Dit is belangrik dat ons weet dat die armoede wat ons het, die omvang daarvan, die ongelykheid, die werkloosheid, dat dit die kinders is van die land se hongersnood,” het hy gesê. “As ons dit nie oplos nie, sal ons jare lank nog, generasie ná generasie, met armoede sukkel. Dit is die kringloop van armoede, soos hulle dit noem.”
Zuma het gesê hy glo nie swart Suid-Afrikaners is slegs sedert 1913 van grond ontneem nie. “Die eerste sekretaris-generaal van die ANC het ʼn verklaring gemaak nadat die Grondwet van 1913 ingestel is, dat die swart mense die aand met hul grond gaan slaap het, en die volgende dag toe hulle wakker word, toe was hulle uitgeworpenes in hul eie land, erger as slawe.”
Zuma het gesê hy glo swart mense het meeste van die grond verloor voor die Grondwet van 1913, tydens die Unie van Suid-Afrika, ingestel is.
“Die jaar 1913 was konsolidering of wettiging. Dit was nie toe die grond gevat is nie. Baie min grond is ná 1913 gevat. Armoede, ongelykheid en werkloosheid is nie iets wat deur God geskape is nie. Dit is deur mense gemaak.”