
Argieffoto (Pixabay)
Die regering en aandeelhouers in die landboubedryf het Vrydag gesê die basiese kosmandjie se prys kan tot en met 25% styg indien Suid-Afrika tussen 5 en 6 miljoen ton mielies moet invoer.
“Daar is ʼn moontlikheid dat tussen 5 tot 6 miljoen ton wit en geel mielies ingevoer moet word,” het Senzile Zokwana, minister van landbou, tydens ʼn perskonferensie gesê. “Indien dit gekombineer moet word met die streeksbehoeftes van Zimbabwe, Lesotho, Namibië, Botswana en Swaziland, sal ongeveer 10.9 miljoen ton, waaronder soja en koring, ingevoer moet word.”
Teen ʼn geraamde R4 500 per ton, sal dit ongeveer R20 miljard kos, het Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, gesê.
De Villiers het gesê die land se drie hoofbronne van geelmielies, wat hoofsaaklik as voer gebruik word en wêreldwyd geredelik beskikbaar is, is onder andere van Argentinië en Brasilië afkomstig. Die beskikbaarheid van wit mielies, wat Suid-Afrikaners eet, is egter meer problematies. “Wit mielies is nie so geredelik beskikbaar nie, en ons praat met die regering om te kyk wat ons in hierdie situasie kan doen om wit mielies op te spoor, veral in Mexiko en Amerika – dit is basies die enigste plekke waar wit mielies beskikbaar is,” het De Villiers gesê. “Prys is hier die kwessie.”
Hy het gesê daar moet ʼn dringende beweging op invoere plaasvind, aangesien Suid-Afrika se wit mielie voorraad verminder.
“As ons na die huidige skatting van die oes kyk, gaan ons teen September/Oktober nie meer wit mielies hê nie, en daarom moet ons gouer eerder as later na invoere kyk.”
Die Nasionale Landboubemarkingsraad (NAMC) het gesê kospryse sal baie erg geraak word deur invoere. “Indien ons tussen 5 tot 6 miljoen ton mielies teen R4 500 per ton moet invoer, sal die impak op kospryse, ongeveer 25% beloop op ʼn basiese kosmandjie,” het Ronald Ramabulana, uitvoerende hoof van NAMC, gesê.