
Foto: AfriForum Jeug
EFF-lede het glo die 49 straatnaamborde wat AfriForum Jeug Sondagaand in verskeie dele van Kerkstraat in Pretoria aangebring het, met rooi verf getakel.
Godrich Gardee, sekretarisgeneraal van die EFF, het gesê sy party ontken nie dat hulle die straatnaamborde gevandaliseer het nie. “Ons sal nie langer getraumatiseer word deur dinge wat ons aan imperialisme en onderdrukking herinner nie”.
Volgens Gardee het AfriForum Jeug die straatnaamborde onwettig aangebring. “Erfenis wat wit oorheersing en kolonialisme bevorder, hoort agter in ‘n museum, nie voor ons nie.”
AfriForum Jeug het Kerkstraat-naamborde aangebring in WF Nkomo-, Stanza Bopape- en Helen Josephstraat.
Volgens Ian Cameron, AfriForum Jeug se woordvoerder, het “die EFF nie respek vir mense se erfenis en geskiedenis nie. Ons wil hê almal se geskiedenis moet vertel word. Straatname is deel van ons geskiedenis”.
Die EFF het in Junie 2015 ʼn versoek by die parlement ingedien om 40 Wes-Kaapse dorpsname te verander. Na wat verneem word, wil die EFF ook die land se naam laat verander. “Ons sal gemeenskappe mobiliseer om straatname te verander,” het Gardee gesê.