
Argieffoto
Die Wes-Kaapse departement van onderwys het in Desember en Januarie veiligheidsmaatreëls by skole opgeskerp om “vandalisme en inbrake” te probeer hokslaan.
Volgens Debbie Schafer, LUR van onderwys, is 21 gevalle van vandalisme die afgelope vakansie aangemeld. “Daar is ʼn merkbare daling in vandalisme en inbrake. Die vorige jaar is 32 soortgelyke voorvalle aangemeld, wat op ʼn vermindering van 34.4% neerkom,” het Schafer gesê.
Volgens Schafer neem gemeenskappe meer verantwoordelikheid om skole te beveilig. “Dit het beslis tot die dalende misdaadsyfer bygedra.” Schafer het wel gesê een van die skole wat gevandaliseer is, is een van 18 skole in die provinsie wat vaardigheidsonderrig verskaf. “Die oortreders het klaskamers verwoes en vensters gebreek, maar niks gesteel nie,” het Schaffer gesê.
ʼn Kombuis wat deel vorm van die voedingskema vir skole, het ook onder vandale deurgeloop.
Volgens Schafer bestee haar departement jaarliks R10 miljoen aan herstelkoste as gevolg van vandalisme.