
Argieffoto ter illustrasie Foto: amandad, Pixabay
ʼn Veldwagter is Donderdag per ongeluk deur ʼn kollega doodgeskiet toe ʼn buffel hulle in die Kruger-wildtuin bestorm het.
Die wildtuin het die tragiese voorval in ʼn verklaring bevestig. “Die twee veldwagters was in die Malelane-gebied besig met ʼn aktiewe teenstroping-patrollie toe die buffel hulle van ʼn kort afstand bestorm het,” lui die verklaring.
“Volgens die kollega het die buffelbul hulle bestorm en was daar ʼn warboel om skuiling te vind vanwaar hulle die dier kon neutraliseer. Daarna het hulle gesien die oorledene is in die kruisvuur vasgevang en het ʼn ernstige skietwond in sy bolyf opgedoen.”
ʼn Sanparke helikopter het dadelik ʼn dokter na die toneel geneem, terwyl ʼn ambulans vanuit Nelspruit ontbied is. Die veldwagter is op die toneel gestabiliseer en per helikopter na die Nelspruit Medi-Clinic geneem, waar hy aan sy beserings beswyk het.
Fundisile Mketeni, Sanparke uitvoerende hoof, het sy medelye aan die oorledene se familie, vriende en kollegas betuig. “Dit is vir ons as ʼn familie ʼn hartseer dag om een van ons eie mense te verloor; ʼn toegewyde kollega en vriend wat nie net die organisasie nie, maar die hele wêreld gedien het om die beskerming van ons natuurlike erfenis te verseker. Ons het alles gedoen om sy lewe te red, maar het hom ongelukkig verloor,” het Mketeni gesê.
“Ons hoop dat hierdie tragiese voorval ons kollegas sal inspireer om voort te gaan met die uitmuntende werk wat hulle doen, sodat sy dood nie tevergeefs was nie.”
Mketeni het gesê die oorledene se kollega sal berading ontvang.
Die oorledene se naam kan nog nie bekendgemaak word nie, aangesien al sy naasbestaandes nog nie van sy dood ingelig is nie.