Ntombizabantu Mbalo (56) het gesê sy het haar dogter, Tandazwa (31), na die Ndende-kliniek in Duncan Village geneem toe sy ʼn asma-aanval gekry het. Mbalo het gesê hulle het net voor 16:00 by die kliniek opgedaag, ʼn halfuur voor die geskeduleerde sluitingstyd.
“Daar was twee verpleegsters aan diens. Hulle het gereed gemaak om huis toe te gaan. Ek het vir hulle gesê my dogter is baie siek,” het sy gesê. “Hulle het op my geskree omdat ek my dogter so laat bring vir iets so klein soos ʼn asma-aanval.”
Volgens Mbalo het hulle vir Tandazwa ʼn suurstofmasker gegee, ʼn inspuiting en ses tablette wat sy dadelik gedrink het. “Hulle het toe vir ons gesê ons moet huis toe gaan.”
Mbalo het Tandazwa aangemoedig om op te staan, maar sy was te swak om te loop. “Ek het ʼn rolstoel geleen, maar die verpleegster het vir my gesê die rolstoel gaan nie uit die kliniek uit nie. Sy het gesê ek moet my dogter op my rug dra tot by die straat waar ons vervoer kon kry,” het sy gesê.
Mbalo het stadig met haar dogter uit die kliniek gestap en die verpleegsters het haar glo aangesê om gou te maak sodat hulle kan sluit en gaan. Toe Mbalo net voor die hek gaan staan het om asem te skep, het die verpleegster gesê sy moet die perseel verlaat sodat sy die hekke kan sluit. Die verpleegsters is kort daarna weg.
“My dogter was te uitgeput en swak om te staan. Sy het net op die sypaadjie gelê terwyl ons vir vervoer gewag het om ons huis toe te neem, “ het Mbalo gesê. “Sy het gesê sy kan nie asemhaal nie. My dogter het haar oë vir die laaste keer toegemaak en gesterf nog voor die verpleegsters se motor in die straat af verdwyn het.”
Alhoewel Tandazwa omstreeks 17:00 dood is, het lykshuispersoneel haar liggaam eers drie ure later kom haal. “Ek het haar met ʼn kombers toegemaak en by haar gesit tot 20:00,” het Mbalo gesê.
Sizwe Kupelo, woordvoerder van die departement van gesondheid, het gesê die klagte oor die verpleegsters word ondersoek omdat hulle nie ʼn “baie siek pasiënt” versorg het nie. “Ons volg die gepaste arbeidsverhoudingprosesse. Dit kan nie geregverdig word dat hulle die kliniek en hek sluit net sodat ʼn pasiënt buite op die sypaadjie doodgaan nie,” het hy gesê.
Dinsdag het ʼn groep van 200 inwoners in die kliniek ingestorm en geëis dat die verpleegsters afgedank word omdat hulle die “batho pele” (mense eerste) beginsel verontagsaam het. Een van die inwoners, Nyameka Ngwendu, het gesê die verpleegsters het hulself in die kliniek toegesluit en hulle nie gesteur aan die skare buite nie.
“Die kliniek maak 07:00 oop en die verpleegsters daag 08:00 op, maar begin eers 09:00 werk. Hulle sal drie pasiënte sien dan eers ʼn uurlange teepouse neem, want hulle wil skinder,” het sy gesê. Sy het gesê noodpasiënte wat na 13:00 by die kliniek opdaag, word gewoonlik aangesê om die volgende dag terug te kom.