
Argieffoto
Kristal-metamfetamien met ʼn straatwaarde van sowat R8 miljoen is Dinsdag in die voering van ʼn passasier se bagasie by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg gevind.
Luther Lebelo, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het Woensdag gesê die bagasie was in die besit van ʼn vrouepassasier wat van Dubai na Suid-Afrika gereis het.
“ʼn Doeanebeampte het die vrou voorgekeer en haar bagasie deursoek. Die beampte het agterdogtig geword omdat die sak te swaar was vir die min items wat in die sak was,” het Lebelo gesê.
Die sak is vir verdere inspeksie gestuur waarna beamptes op 26,8 kg se kristal-metamfetamien afgekom het.
Die passasier en die dwelms is aan die polisie oorhandig vir verdere optrede en ondersoek.
Dit is die tweede geval die afgelope week waar die SAID kristal-metamfetamien by die lughawe ontdek.
Verlede week is dwelms met ʼn straatwaarde van R2 miljoen in strykplanke wat van Indië ingevoer is gevind.
“Die invoer van strykplanke per pos het die beampte agterdogtig gemaak en sy het besluit om die besending te deursoek.” Volgens Lebelo het die beampte gesien daar is met die strykplanke gepeuter. Sy het op ʼn sakkie kristal-metamfetamien afgekom toe sy een van die strykplanke oopgesny het.
Lebelo het gesê daar is ʼn sakkie in elke strykplank gevind. Die gewig van dié dwelms was sowat 7 kg.