Faan Schutte (63) het erge brandwonde in sy gesig, bolyf, bene, arms en hande opgedoen en moet deurentyd morfien kry om sy pyn te beheer.
Carla, Faan se vrou, het aan Maroela Media gesê haar man het Maandagaand by ʼn goeie familievriend gekuier toe die ongeluk gebeur het. “Hulle het voor die gasverwarmer gesit en televisie kyk en so teen 22:00 het Faan opgestaan om huis toe te gaan,” het sy gesê.
“Hy het aan sy vriend, Jan van der Merwe, gesê die gasbottel maak ʼn snaakse geluid en Jan het gesê hy moet die gas sommer net toedraai. Jan het solank vooruit gestap om al die hekke en deure oop te sluit, toe Faan die gasbottel toedraai. Die bottel het net skielik in sy gesig ontplof.”
Volgens Carla het die reuse ontploffing veroorsaak dat ʼn ander gasbottel elders in die huis ook ontplof het en die huis het byna heeltemal afgebrand. Van der Merwe, wat ten tyde van die ontploffing reeds buite die huis gestaan het, het ongedeerd daarvan afgekom.
“Faan het verskriklike pyn en hulle moet hom elke twee ure morfien gee. Hy was gister in die teater waar al die velle afgeskrop is en sy gesig is nou omtrent tot twee keer die normale grootte geswel. Hy is ook heeltemal in verbande toegedraai.” Carla het gesê Faan is egter by sy volle bewussyn en kan die ongeluk duidelik onthou. “Hy praat so bietjie met die mense wat kom kuier en hy kan vertel wat gebeur het. Maar hy sal nog weke, dalk maande in die hospitaal wees.”Carla het gesê dit is vir dokters moeilik om nou al te bepaal of Faan veloorplantings sal nodig hê, maar dit is ʼn sterk moontlikheid.
“Dit was ʼn fratsongeluk en iets wat niemand kon voorsien het nie. En vir iemand soos hy wat so aktief en ʼn sportfanatikus is, is dit ʼn verskriklike ding om deur te gaan.” Faan het deeltyds as ʼn rugbyafrigter gewerk en rig nou voltyds skool- en universiteitspanne af.