
Argieffoto
Vier verdagtes, waaronder ʼn geloofsgeneser, het in die hof verskyn weens die moord op ʼn 20-jarige albinovrou wat sedert die begin van vandeesmaand vermis is en wie se erg geskende liggaam Sondag in ʼn vlak graf in KwaZulu-Natal gevind is.
Maj. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê Bhekukufa Gumede (65), ʼn plaaslike geloofsgeneser, Siyabonga Gwala (18), Lindokuhle Khumalo (19) en Mandla Mabuza (19) het Maandag in die Emanguzi-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van moord.
Dit volg nadat die slagoffer, Thandazile Mpunzi, se liggaam in stukke in die vlak graf in die Emanguzi-omgewing aangetref is. Daar word vermoed dat sy verwurg is voordat sy in stukke opgesny en begrawe is. Mpunzi is op 5 Augustus deur haar naasbestaandes as vermis aangemeld.
“Die polisie het sedert die saak aanhangig gemaak is, baie nou met die gemeenskap saamgewerk en Sondag inligting ontvang wat tot die inhegtenisneming van die drie jong verdagtes gelei het,” het Zwane gesê. “Die geloofsgeneser is later die dag in hegtenis geneem omdat hy glo by die moord betrokke was en na bewering die ander drie verdagtes gehelp het om die vrou se liggaam te skuif en ook sekere liggaamsdele gevat het.”
Die saak is tot 25 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Die verdagtes bly in aanhouding tot dan.