ʼn Gesin van Benoni aan die Oosrand is in rou nadat die pa van ʼn tienerseun Sondagaand in ʼn tref-en-trap-ongeluk dood is.
Barend Viljoen (47) was op sy 125cc bromponie op pad huis toe ná werk toe ʼn motor om ʼn draai in Elmweg, Bredell, hom reg van voor getref het. Valerie, Barend se vrou, het aan Maroela Media gesê dat ʼn vrou wat in die straat bly, die slag gehoor en uitgehardloop het.
Die motor het glo weggejaag voordat iemand die registrasienommer kon afneem. “Die vrou het gesê Barend het in die pad gelê en het gladnie gepraat of beweeg nie. Hy het net ʼn paar keer asem gehaal voordat sy oë glaserig geword het,” het sy gesê. Hy is op die toneel dood verklaar.
Valerie het gesê sy het omstreeks 14:00 die middag vir die laaste keer met Barend gepraat. “Hy het vir ʼn veiligheidsmaatskappy in Isando gewerk en sou die aand net ná 18:00 weer by die huis wees. Toe het hy nooit huis toe gekom nie,” het sy gesê. “Ek dink nie dit het my al regtig getref nie. Ek het amper nog gladnie gehuil nie. Ek dink as ek hom eers sien, sal ek regtig besef wat gebeur het.”
Volgens Valerie word ʼn nadoodse ondersoek nog gedoen en sal die familie begrafnisreëlings tref sodra die ondersoek afgehandel is. Die egpaar het ‘n 14-jarige seun, Brandon.
Intussen het die bestuurder van die motor homself Dinsdag in die teenwoordigheid van sy prokureur by die Crystal Park-polisiestasie gaan oorgee. Maroela Media verneem ʼn saak van strafbare manslag is geopen, maar die bestuurder is nog nie in hegtenis geneem nie.
Die woordvoerder van die polisiestasie kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

