
Argieffoto
Debbie Schäfer, LUR vir onderwys vir die Wes-Kaap het gesê sy was “baie bly en trots” toe sy uitvind dat die Wes-Kaap die hoogste slaagsyfer, 84,7%, in die land getoon het. Dit is 2,5% hoër as in 2014.
Saam met haar blydskap het sy ook haar kommer uitgespreek dat die Wes-Kaap die enigste provinsie is wat ’n verbetering in sy matriekresultate getoon het. Sy het dié feit as ’n “kommerwekkende ontwikkeling” beskryf.
Die persentasie leerlinge wat met universiteitsvrystelling geslaag het, het toegeneem tot 41,7% – die hoogste in die land. Die res het almal geslaag met vrystelling om vir ’n diploma of ’n sertifikaat te studeer. Die Wes-Kaap het volgens Schäfer ook weer ’n verbetering getoon in die skole met heelwat voorheen benadeelde leerlinge.
Sy het bygevoeg dat daar ook ʼn toename is in die aantal kandidate wat wiskunde en fisiese wetenskappe geskryf en geslaag het. “Dit is belangrik om kennis te neem dat dit nie net in persentasie is nie, maar ook in die getal leerlinge”.
Sy skryf die Wes-Kaap se sukses toe aan ’n sterk fokus op kwaliteit. Sy meen die kwaliteit van die onderrig is net so belangrik as die aantal leerlinge wat slaag.
Volgens Schäfer is dít slegs moontlik deur deurlopende ingrype in skole.