
Pres. Jacob Zuma, adjunkpres. Cyril Ramaphosa en adjunk sekretaris-generaal van die ANC, Jessie Duarte by die ANC se 103de herdenking in Kaapstad-stadion op 10 Januarie 2015 Foto: Elmond Jiyane, departement van kommunikasie
Meer as 120 000 mense word dié naweek by die ANC se 104de verjaardagviering, wat by Phokeng naby Rustenburg gehou word, verwag.
Volgens Jessie Duarte, adjunksekretaris-generaal van die ANC, word daar tot 123 000 mense by die Royal Bafokeng-stadion verwag. “Die stadion het sitplek vir 45 000 mense, maar ons sal ook 10 000 mense op die veld toelaat. Daar sal twee terreine langs die stadion wees, waar besoekers deur middel van televisieskerms die verrigtinge sal kan volg,” het Duarte gesê.
Volgens Duarte het die versengende hitte wat groot dele van die land lamlê, die regerende party genoop om die daaglikse program vroeër te laat begin. “Ons wil daagliks teen 14:00 klaar wees met die program. Pres. Jacob Zuma sal om dié rede Saterdag reeds om 11:00 sy toespraak lewer.”
Intussen het dit bekend geword dat die polisie Maandag tussenbeide moes tree toe twee faksies van die ANC byna handgemeen geraak het. Die een groep het die kop van Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, geëis, terwyl die ander groep gesê het “hulle beskerm die ANC”.
Albei groepe, gewapen met knopkieries en klippe, het beledigings na mekaar geslinger.
Duarte het gesê die ANC het ʼn memorandum van die groep ongelukkiges ontvang en onderneem om aandag daaraan te gee. “Hulle klagte oor bruin drinkwater is reeds opgelos, terwyl hulle ook klagtes oor ʼn plaaslike kliniek en klaarblyklike bedrog in die plaaslike munisipaliteit aan die lig gebring het,” het Duarte gesê.