Stone Sizani, hoofsweep van die regerende party, het gesê die party glo daar moet spesifieke wetgewing geskryf en deur die parlement aanvaar word wat enige optrede wat rassisties is of apartheid loof, kriminaliseer.
“Die huidige wetgewing is nie voldoende om rassiste te straf of te ontmoedig nie. As die meerderheidsparty in die parlement sal ons binnekort ondersoek instel hoe ons ʼn spesifieke wet kan skep of bestaande wetgewing kan wysig om te verseker dat rassisme en die bevordering van apartheid gekriminaliseer en tronkstraf opgelê kan word.”
Maroela Media het vroeër berig dat ʼn storm vandeesweek oor die koppe van Penny Sparrow en Chris Hart losgebars het nadat hulle inskrywings op sosiale media gedeel het wat wyd as rassisties gekritiseer is.
Sizani het gesê die inskrywings is ʼn aanduiding dat “die tyd gekom het vir die parlement om te heroorweeg of daar op die interne prosesse van ʼn politieke party of maatskappy staatgemaak kan word” en dat rasse-onverdraagsaamheid en apartheid eerder, soortgelyk aan Nazisme en die ontkenning van die Joodse volksmoord, as ernstige oortredings van menseregte gesien word waarvoor daar tronkstraf opgelê kan word.
Hy het ook verwys na die Facebook-plasing wat onlangs deur DA LP Dianne Kohler-Barnard op dié sosialemediaplatform gedeel is waarin ʼn joernalis die voormalige apartheid-era pres. PW Botha geloof het.
“Daar word al lank van swart Suid-Afrikaners verwag om versoening na te jaag eerder as vergelding, terwyl sommige wit Suid-Afrikaners voortgaan om betrokke te raak by dade van vervolging en teistering gedryf deur rasse-onverdraagsaamheid,” het hy gesê.
“Ons as ʼn nasie kan nie langer sulke onmenslike oortredings duld waar die swart meerderheid behandel word as sub-mense en na wie verwys word as ape, bobbejane en ander afbrekende, rassistiese byname in hul geboorteland nie.”