
Patrick Mugadza Foto: NewZimbabwe.com
ʼn Pastoor wat verlede maand man alleen teen die Zimbabwiese president Robert Mugabe betoog het voor hy in hegtenis geneem is, het onderneem om dit weer en weer te bly doen.
Patrick Mugadza (45), ʼn pa van twee, is vrygelaat op borgtog nadat hy 16 dae lank in ʼn warm, vuil tronksel in Victoria Falls aangehou is.
Mugadza is verlede maand in dié vakansiedorp in hegtenis geneem toe hy ʼn vreedsame optog by die jaarlikse Zanu-PF-konferensie gehou het, en ʼn plakkaat opgehou het met die woorde, “Mnr. President, die mense ly”. Hy het meer as 500 km van sy tuisdorp Kariba gery om, naby die luukse hotel waar die konferensie gehou is, teen Mugabe en die regerende Zanu-PF te betoog.
Hy is in hegtenis geneem en aangekla van “kriminele oorlas”. Hy kon nie die borgtog van ongeveer R7 500 betaal nie, en die nie-regeringsorganisasie, Lawyers for Human Rights, het ingetree en appèl aangeteken sodat die hof die bedrag moet verminder. Mugadza is uiteindelik op Oujaarsaand vrygelaat op borgtog van R450.
Hy het al ʼn paar keer vantevore ook teen Mugabe betoog, en sê hy het “geen berou” oor sy betoging óf tyd wat hy in gevangenis spandeer het nie, maar hy kan nie bekostig om terug te gaan huis toe nie, aangesien sy hofsaak Dinsdag in Victoria Falls begin.
Volgens hom het Zimbabwiërs “gesondig” toe Mugabe in 1990 van eerste minister na president bevorder is, aangesien hy nou “ʼn god is met onbeperkte mag wat hy teen gewone mense gebruik”.
Mugadza het in ʼn onderhoud met NewZimbabwe.com gesê hy het die 10m2 met 17 ander persone gedeel. “As jy na die geskiedenisboeke kyk toe persone in aanhouding geneem is vir slawerny, is dít hoe ons geslaap het. Dit was vreeslik. Victoria Falls is boonop baie warm,” het hy verduidelik. “Om in die tronk te wees was in die eerste plek ʼn skending van my regte. Dit was ongrondwetlik, maar dit sal my nie verhinder nie.”
Hy het gesê hy het talle persone in die tronk ontmoet wat sonder ʼn rede aangehou word.