
Argieffoto
ʼn 15-jarige seun het in Umkomaas aan die KwaZulu-Natalse suidkus verdrink toe hy sy 13-jarige vriendin wou red.
“Die tiener het in die water by Widenhamstrand gespring om die meisie te red wat in die moeilikheid beland het,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, gesê. “Hy het ook in ʼn sleurstroom beland.
Omstanders het reeds albei uit die water gehaal toe paramedici Vrydag kort ná 17:00 by die toneel opgedaag het. “Lede van die publiek was reeds besig met baie doeltreffende KPR toe ons by die toneel opgedaag het,” het Botha bygevoeg. “Paramedici het by hulle oorgeneem en die seun op ʼn ventilator geplaas. Pogings om sy lewe te red het die hele pad op pad na die hospitaal in Amanzimtoti voortgeduur. Hy het ongelukkig, ondanks ʼn yslike poging deur die mediese span, gesterf.”
Die 13-jarige meisie is deur paramedici van die provinsiale departement van gesondheid bygestaan en na ʼn hospitaal in Amanzimtoti geneem.
Volgens Botha is albei tieners plaaslike inwoners.
Widenhamstrand is ʼn afgesonderde strand ongeveer 5 km suid van Umkomaas, ongeveer 45 km suid van Durban. Die strand het nie lewensredders nie.