
Old Faureweg Foto: Google Earth
Twee personeellede van die stad Kaapstad se veiligheid- en sekuriteitsdirektoraat is Vrydagaand dood toe hulle motors reg van voor gebots het.
“Bulalekile Ganta, ʼn wetstoepasser wat al 30 jaar lank vir die munisipaliteit werk, het in ʼn munisipale voertuig gery,” het Richard Bosman, woordvoerder van die direktoraat, Saterdag gesê. “Zindiswa Canca (33) wat as ʼn operateur by die 107-nooddiensnommersentrum gewerk het, het in haar privaat motor gery.”
Die ongeluk het in Old Faureweg naby Mfuleni plaasgevind.
Ganta en Canca is op die toneel dood. Brand- en reddingdienswerkers moes meganiese toerusting gebruik om hulle uit die wrakke te sny.
Bosman het gesê die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.
“Personeellede in albei departemente is baie erg getraumatiseer en het gisteraand en vanoggend berading ontvang,” het hy bygevoeg.