
Een van die worshonde is gered Foto: NSRI
Twee worshonde wat ʼn dassie agternagesit en toe in ʼn gat onder puin beland het, is deur lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gered.
Die NSRI het Vrydag, op Kersdag, omstreeks 19:40 ʼn oproep ontvang van besorgde lede van die publiek oor die twee honde wat by ʼn steengroef in Salemweg in Westering, Port Elizabeth, vasgekeer is.
Die honde se eienaar, mev. Daniels, het met haar honde gaan stap toe Brody en Levi ʼn dassie agternagesit het. Die twee honde het in ʼn gat tussen die steengroefrommel gekruip toe die puin op hulle ingesak het. Die bure het voorgestel dat sy die NSRI ontbied vir bystand.
NSRI Port Elizabeht het ook die provinsiale departement van gesondheid se nooddiensspan en Nelson Mandelabaai se brand- en reddingsdiens in kennis gestel en die Kusredding- en bergklub van Suid-Afrika se soek- en reddingspan is ook versoek om bystand te lewer.
Lede van die NSRI, Alan Singman, Ryan Meyer en Natasha Smith, het intussen gaan ondersoek instel. Natasha het die twee honde in ʼn diep gat onder die rommel, modder, sementblokke en puin gevind. Sy kon slegs een hond hoor blaf, maar dit was dadelik duidelik dit gaan ʼn groot uitdaging wees om die honde te bevry.
Mev. Daniels het desperaat deur die modder probeer grawe om by haar honde uit te kom en NSRI-lede het ook soveel as moontlik van die puin begin verwyder uit vrees vir ʼn volgende ineenstorting.
Alan het in ʼn baie beperkte spasie, terwyl slegs flitse die gebied verlig, ʼn graaf gebruik om dieper in die ingesakte tonnel te grawe, maar hulle kon steeds slegs vir Brody hoor blaf. Ondanks die risiko dat die tonnel verder kon ineenstort, het Alan uiteindelik ná twee ure vir Brody uit die gat kon haal. Hy is nie beseer nie en is aan mev. Daniels oorhandig.
In hierdie stadium het Levi ook begin blaf, maar dit was gedemp en die vermoede was dat die grond op sy kop en boonste deel van sy lyf ingestort het.
Slegs een reddingspersoon kon in die gat werk en Alan het onverpoosd verder gespook.
Byna 25 minute later is Levi ook uiteindelik onder die modder en puin uitgehaal. Hy is ook wonderbaarlik sonder beserings.
Mev. Daniels was baie verlig en sy het die reddingspanne bedank.
Geen verdere bystand was nodig nie.
SMS 32287 (R1/SMS) met jou naam en ʼn boodskap van ondersteuning aan die NSRI.



