Khenisa word van wangedrag beskuldig wat verband hou met voorwaardelike toelae van R426,9 miljoen wat deur die nasionale tesourie aan die munisipaliteit toegeken is en nie spandeer is nie.
Die munisipaliteit het by die tesourie aansoek gedoen dat die onbestede toelae tot volgende jaar kan oorstaan. Die nasionale tesourie het egter die versoek geweier omdat die munisipaliteit se versoek dat gelde wat aan openbare vervoerinfrastruktuur en munisipale infrastruktuur bestee moet word, vir ’n derde agtereenvolgende jaar oorstaan.
Opposisiepartye het op 11 Desember by ʼn spesiale raadsitting uitgeloop nadat hulle ʼn mosie dat Khenisa geskors word, teengestaan het. Sommige ANC-raadslede wat ook teen Khenisa se skorsing was, het ook uitgestap.
Aangesien die vergadering nie ʼn kworum gehad het nie, kon daar nie oor Khenisa se skorsing gestem word nie. Dit het gelei tot ʼn spesiale sitting wat Maandag gehou is. Die Demokratiese Alliansie (DA) en ander opposisiepartye het nie die vergadering bygewoon nie.
Gert du Plessis, die DA se koukusleier, het gesê die party kon nie die sitting bywoon nie aangesien hulle eers die agenda Saterdag ontvang het, terwyl ander raadslede glad nie ʼn agenda ontvang het nie. Du Plessis het gesê volgens die reëls moet raadslede die agenda twee tot vier dae voor ʼn vergadering ontvang.
“Die reëls is nie hier gevolg nie. In die vorige vergadering het die speaker aangedui dat daar nie verder vanjaar vergaderings gehou sal word nie. DA-raadslede was reeds met vakansie toe hulle van die vergadering ingelig is,” het hy gesê.
Du Plessis het bygevoeg die DA het gesê alhoewel hulle nie ʼn ondersoek na Khenisa se gedrag teenstaan nie, is hy nie die enigste een wat die blaam moet dra nie.
“Die burgemeester, die hoof finansiële beampte, direkteure en eenheidbestuurders moet ook blameer word. Hulle is die persone van die toelae moet spandeer, maar word beperk, want as die voorwaardelike toelae spandeer word, sal daar niks meer geld in die rekening wees nie.”