Die dief, na bewering ʼn sleutelfiguur in ʼn beestediefstal-sindikaat, is gevang terwyl hy besig was om beeste in die bos by die Bale-nedersetting net buite die Krugerwildtuin se Pafuri-hek te slag. Na bewering het die inwoners die man en sy twee medepligtiges in die bos gesien waar hulle die diere geslag het en hulle voorgekeer.
Die twee medepligtiges kon egter daarin slaag om in die bos in te vlug. Die inwoners het die vermeende baasdief gegryp, hom in sy voertuig geboender en met hom weggery. Hulle het later stilgehou waar hulle ʼn byl en slagmes by hom afgeneem het voordat hulle hom erg aangerand het. Hulle het ook sy voertuig aan die brand gesteek.
Die verdagte is deur polisiebeamptes wat van diens af was gered en na ʼn polisiestasie naby die Zimbabwiese grens geneem. Ao. David Marodi, polisiewoordvoerder, het die gebeure bevestig.
Volgens die inwoners, wat grootliks ʼn lewe uit beesboerdery maak, word hulle vee gereeld gesteel en uit die land na Botswana, Mosambiek en Zimbabwe gesmokkel. Die beeste word soms ook geslag en die vleis aan informele vleismarkte in Musina en Thohoyandou verkoop.
Mpho Rasilavhi, die hoof van die nedersetting, het gesê inwoners moet noodgedwonge gereg in eie hande neem aangesien die verdagtes wat wel deur die polisie gevang word, binne ʼn paar dae op borgtog vrygelaat word en net weer terugkeer om weer te steel.