
Argieffoto van ‘n Air France Boeing 777 (“Air France B777-200ER(F-GSPY) (4815799088)” deur Kentaro Iemoto vanaf Tokio, Japan via Wikimedia Commons)
ʼn Air France-vlug tussen Mauritius en Parys is gedwing om in Mombasa, Kenia, te land ná ʼn toestel, wat soos ʼn bom gelyk het, in ʼn toilet gevind is.
Die Boeing 777 Air France Vlug 463 was onderweg na Charle de Gaulle-lughawe in Parys toe die vlieëniers om 00:37 ʼn noodlanding by die Moi Internasionale Lughawe versoek het, het Charles Owino, woordvoerder vir die polisie in Kenia, gesê.
Die vliegtuig, met 458 passasiers en 14 bemanningslede aan boord, het omstreeks 21:00 uit Mauritius vertrek. “Alle passasiers is veilig ontruim en die toestel is uitgehaal. Bomkenners ondersoek die verdagte toestel,” het Owino bygevoeg.
Die lughawe in Mombasa is ook tydens die ontruiming en soektog gesluit, het ʼn polisiebeampte, wat anoniem wou bly omdat hy nie gemagtig is om met die media te praat nie, gesê.