
Pikitup (Argieffoto)
Stakende lede Samwu-lede by Pikitup het Saterdag weer begin werk ná ʼn tweede onwettige staking.
Jacky Mashapu, woordvoerder van die maatskappy, het gesê die vakbond het ingestem om die onwettige staking op te skort na ʼn vergadering Vrydag tussen die twee partye.
“Die stad Johannesburg het dit duidelik aan die vakbond gestel dat hy nie gaan onderhandel terwyl werkers in die strate rondloop tydens ʼn onwettige staking nie, aangesien dit ʼn slegte presedent sal skep,” het Mashapu gesê. “Die vakbondverteenwoordigers het ingestem om die staking op te skort, en werkers het Saterdag teruggekeer.”
Pikitup-werkers het Vrydag weer begin staak, skaars drie weke na ʼn ooreenkoms met die werkgewer gesluit is, nadat Jacob Mamabolo, Gautengse LUR van menslike nedersettings en samewerkende regering, ingetree het.
Die werkers het op 23 November begin staak en salarisverhogings van R6 000 tot R10 000 geëis en daarop aangedring dat die maatskappy salarisongelykhede moet ondersoek. Hulle het ook geëis dat die besturende direkteur, Amanda Nair, moet bedank.
Honderde werkers het Vrydag begin staak en geëis dat hulle ʼn 14de tjek moet ontvang, nadat die vakbond glo aangedui het dit is ʼn eenmalige aansporingsbonus wat Pikitup sal betaal as deel van die ooreenkoms.
Mashapu het gesê konsultasies met Samwu duur voort.
Rommel en vullis het tydens die vorige staking in Johannesburg se middestad en woonbuurte opgehoop. ʼn Hofinterdik wat Pikitup teen die stakers bekom het, is geïgnoreer en die maatskappy het die Red Ants-veiligheidsdiens aangestel om die agterstand op te ruim. Minstens vier kontrakwerkers is tydens die staking geskiet.
Lees alle vorige berigte oor Pikitup op Maroela Media.