
Argieffoto
ʼn Oos-Kaapse man sal Vrydag in die hof verskyn nadat hy na bewering sy ma doodgeskiet het.
Kapt. Jackson Manatha, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het Woensdagaand omstreeks middernag gebeur toe die beskuldigde (39) na bewering vanaf Kaapstad by sy 65-jarige ma se huis opgedaag het.
“Hy het haar glo in die bolyf geskiet. Sy is dood in haar bed aangetref,” het Manatha gesê.
Hy het gesê die motief vir die moord is nie in hierdie stadium bekend nie. “Daar is beslag gelê op ʼn gelisensieerde vuurwapen.”
Die verdagte sal in die Dutywa-landdroshof verskyn op aanklag van moord.