
Rolene Strauss is gereed om die kroon te oorhandig. Foto: Verskaf
Rolene Strauss gaan 19 Desember amptelik haar kroon as Mejuffrou Wêreld aan haar opvolger oorhandig wanneer die nuwe Mejuffrou Wêreld tydens die 65ste Mejuffrou Wêreld-skoonheidskompetisie in Sanya, China, aangekondig word.
Rolene was ʼn vierdejaar mediese student by die Universiteit van die Vrystaat toe sy as Mejuffrou Wêreld gekroon is. Hoewel dié gesogte titel verskeie verantwoordelikhede en ʼn vol program meegebring het, beplan sy om ʼn selfs beter jaar in 2016 te hê.
Die skoonheid het ook in Julie vanjaar verloof geraak en beplan om in Februarie die knoop met die sakeman D’Niel Strauss deur te haak .
Alhoewel haar trouplanne haar taamlik besig hou, het Rolene gesê dat sy beplan om na Bloemfontein terug te keer om haar mediese graad te voltooi.
“Ek wil persepsies verander en ook iets bydra tot die gesondheid van vroue in Suid-Afrika. My mediese graad is vir my belangrik en dit sal altyd my passie bly.”
Rolene het gesê dat die ervaring as Mejuffrou Wêreld tot nuwe en lewenslange vriendskappe gelei het en dat dit slegs ’n eer is om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig.
“Die grootste les wat ek geleer het gedurende my jaar as Mejuffrou Wêreld, is dat ons almal besig is om geskiedenis te maak, ongeag van wat ons doen of waar ons is,” het die skoonheid bygevoeg.