
AfriForum/Facebook. Argieffoto.
Tainted Heroes, die dokumentêre rolprent wat die gebruik van geweld deur die ANC en ander bevrydingsorganisasies in Suid-Afrika illustreer, word vroeg volgende maand bekendgestel.
Die dokumentêr, waaroor Maroela Media vroeër berig het, is twee uur lank en handel oor die geskiedenis wat strek van die Soweto-studenteopstand in 1976 tot en met die inhuldiging van oudpres. Nelson Mandela in 1994.
Die fliek gee heelwat aandag aan die bekende dele van die geskiedenis van Suid-Afrika tydens die apartheidsjare, maar onderneem om ʼn “kant van die verhaal te vertel wat in geskiedenisboeke ontbreek”, het Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum en medevervaardiger van die fliek, vertel.
Roets sê die dokumentêr is nie anti-ANC nie. “Die algemene gevoel is deesdae dat almal wat hulle in die ANC se kamp bevind het onbevlekte helde was en almal wat van die ANC verskil het, bose belhamels. Die feite wat Tainted Heroes op die tafel plaas wys dat die geskiedenis nie so eenvoudig is nie.”
Meer besonderhede oor wanneer en waar Tainted Heroes vertoon word sal binnekort bekend gemaak word.
Kyk hier onder die lokprent vir die fliek.