
Geloftedag
Versoeningsdag
Moet Versoeningsdag afgeskaf word? Die antwoord is nee, ’n duisend maal nee. Miskien moet dit na ʼn ander dag verskuif word sodat Geloftedag nie deur die politieke misbruik van hierdie dag besoedel word nie. Die politieke onderrok van vanjaar se tema wil-wil uithang: “Bridging the divide: Building a common South African nationhood towards a national developmental state”. Daarby ook: “The month has a special significance for the nation as it promotes reconciliation, peace and social cohesion on which the country’s new democratic dispensation was founded.”
Maar die vraag oor die afskaffing van die dag is nie uit die lug gegryp nie, en daar is verskeie redes waarom hieroor besin behoort te word. Die voorbeeld word gereeld gebruik van die ouderling wat so mooi die vergadering ná die kerkdiens met gebed kan afsluit. So mooi vroom en oortuigend. Maar kom hy by die motor waar sy vrou en kinders wag, vloek en skel hy hulle uitmekaar.
Kortom, hoeveel van die politici wat vandag toesprake by Versoeningsdaggeleenthede afsteek, is die ander 355 dae van die jaar ’n voorbeeld van versoening? Dui hul alledaagse optrede nie juis op die teenoorgestelde nie? Trouens, daar gaan al hoe meer stemme op dat dit nie (meer) ’n prioriteit is nie. In sy Versoeningsdagboodskap haal dr. Theuns Eloff, voorsitter van die FW de Klerkstigting, vir Tony Ehrenreich aan om te demonstreer: “The phase of reconciliation that brought together fair-minded white and black people is over. We are now engaged in a struggle for economic and social justice.”
In die rubrieke van verskeie kommentators word gereeld verwys na die woede van jong swart mense, wat so ver gaan om dit te stel dat Nelson Mandela die swart mense met die Kemptonparkse onderhandelinge uitverkoop het.
Volgens die jongste jaarlikse versoeningsbarometer meen 61,4% van die respondente rasseverhoudinge het sedert 1994 versleg. Altesaam 67,3% van die respondente toon aan dat hulle min of geen vertroue in ander rasse het nie.
Om bloot die dag as Versoeningsdag op die kalender te hê en waar ’n klompie politici ’n toespraak afsteek (dikwels boonop erg misplaas) werk nie versoening in die hand nie. Dit geld eintlik ook ander dae soos Vrouedag, Vryheidsdag en Menseregtedag. Die bedoeling is dat ’n gebeurtenis herdenk en gevier moet word, of dat dit as ’n “gewete” moet dien om mense daaraan te herinner.
Daar is gereeld aanduidings dat Christelike vakansiedae soos Kersfees en Goeie Vrydag soos Hemelvaartdag in die slag kan bly. Maar hoekom dan nie eerder van sekulêre dae wat niks beteken ontslae raak as die land te veel vakansiedae het nie? Baie van dié dae verteenwoordig beginsels en ideale wat 356 dae van die jaar uitgeleef moet word, soos ook versoening.
Geloftedag
Daar is 36 verwysings na geloftes in die Bybel, waarvan 34 in die Ou Testament voorkom. Dit is ondernemings wat die mens teenoor God maak. Die meeste verwysings dui egter bloot op voorskrifte wat met geloftes handel, en nie na werklike geloftes wat gemaak is nie. Nie minder as 82 keer verwys die Bybel na beloftes wat God aan mense maak, of mense aan mekaar maak. Boonop het God ʼn verbond met Israel gesluit en dui die Nuwe Testament op die Nuwe Verbond.
Is dit nie ’n bietjie vreemd dat God meer beloftes maak as wat die mense geloftes aan God, hul Skepper en Verlosser, maak nie?
Uiteraard is ’n gelofte, en ook ʼn belofte, iets wat nie sommer ligweg gemaak durf word nie. ’n Mens se woord is immers veronderstel om sy eer te wees.
Net so is die Gelofte van Bloedrivier ’n herinnering daaraan dat ons in elke situasie wanneer ons ʼn onderneming maak, veral teenoor God, soos met die huweliksbevestiging en met die aflê van getuienis onder eed, erns daarmee sal maak.
Amptelik is Geloftedag afgeskaf, maar dit leef voort in die harte van baie Afrikaners – daar is nou al Geloftefeeste tot oorsee ook. Min Afrikaanse gemeentes dui nie op hul jaarkalenders aan dat dit Geloftedag eerder as Versoeningsdag is nie. Elke jaar wys baie van die sprekers daarop dat Geloftedag nie onvanpas op dieselfde dag as Versoeningsdag plaasvind nie. Andries Pretorius het byvoorbeeld voor en ná die slag van Bloedrivier deurlopend vrede met die Zoeloes nagestreef. Betroubare syfers oor hoeveel bruin mense en van Alexander Biggar se swart skerpskutters in die laer van Bloedrivier was, ontbreek, maar volgens sommige berekenings kon dit meer as 400 gewees het. Bronne beskryf hoe ander stamme op wie Dingaan ook jag gemaak het, ná die slag van Bloedrivier weer na vore gekom het. Een bron meld hoe hulle “uit hul gate gekom” het.
Steeds is pogings tot vrede voortgesit. Die Voortrekkers het ’n beduidende rol gespeel dat Panda, halfbroer van Dingaan, as alternatiewe mag en later, nadat Dingaan deur die Swazi’s doodgemaak is, as plaasvervangende mag oor die Zoeloes regeer het. Panda het vooraf vrede met die Trekkers gesluit en onder meer die Volksraad in Pietermaritzburg besoek.
Kortom, dit was nie net die Voortrekkers wat voordeel uit die afloop van die Slag van Bloedrivier en opvolgende ekspedisies getrek het nie.
Solank Geloftedag nie deur politiek gekaap word nie, bly dit ʼn belangrike dag op die Afrikaner-kalender. Neem gerus die Geloftedagboodskappe wat Maroela Media jaarliks publiseer ter harte.