
Oscar Pistorius. Argiefforo: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool
“Hy is skuldig bevind aan moord en hy is ʼn eerste oortreder. Die wet skryf 15 jaar voor as die toepaslike vonnis vir moord,” het Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), gesê.
Pistorius is Dinsdag op borgtog van R10 000 vrygelaat. Hy het intussen in sy verklaring in die hof aangedui dat sy regspan die konstitusionele hof sal nader om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding aan moord.
Volgens Pistorius is sy regte geskend deur die appèlhof se beslissing aangesien die hof volgens hom op feitelike punte eerder as regspunte oorweging gegee het deur hom aan moord skuldig te bevind. Hy voer ook aan dat sy vooruitsigte vir ‘n regverdige verhoor belemmer is deur die regstreekse televisie-uitsending. Volgens Pistorius het dit daartoe gelei dat sekere getuies nie wou getuig nie.
Adv. Gerrie Nel, namens die staat, het Dinsdag aan die hof gesê daar is geen vooruitsig dat Pistorius se appèl sal slaag nie. Pistorius het 15 dae om teen die appèlhof se beslissing te appelleer.