ʼn 29-jarige verdagte is Maandagaand in hegtenis geneem vir die moord op ʼn landboudosent van die Universiteit van Limpopo.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte is vasgetrek nadat die polisie ʼn wenk van die publiek opgevolg het.
Maroela Media het vroeër berig Freddy Madiba (50) se liggaam is Maandagoggend in sy rolstoel voor sy huis op die kampus van die universiteit aangetref deur familielede. Hy het veelvuldige oop wonde aan sy kop gehad. Die polisie wou nie oor die motief vir die moord bespiegel nie.
Die verdagte sal Woensdag in die Mankweng-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van moord.