Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê toe paramedici en lede van die plaaslike brandweerdienste by die toneel opdaag, het die wrakke van twee bakkies in die middel van die pad gelê. ʼn Vragmotor, wat glo ʼn groep plaaswerkers vervoer het, het langs die pad gestaan.
Volgens die voorlopige ondersoek het een van die bakkies teen die kant van die vragmotor gebots, voordat dit reg van voor teen die tweede bakkie gebots het, het Meiring gesê.
“Die bestuurders van die bakkies was in die wrakstukke vasgekeer. Ongelukkig het albei mans reeds aan veelvuldige beswerings beswyk en hulle is op die toneel dood verklaar,” het hy gesê. “Die brandweerdienste het later die lyke met meganiese toerusting uit die wrakke verwyder.”
Paramedici het die insittendes van die vragmotor ondersoek en hulle is vir geringe tot matige beserings behandel, voordat hulle na nabygeleë hospitale geneem is.
Die ongeluk sal deur die polisie ondersoek word.

