
Argieffoto
Die polisie waarsku teen ʼn aanlyn slenter wat mense per SMS uitnooi om aansoek te doen om sogenaamde polisieleerling-betrekkings in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die “betrekkings” word ook op gratis advertensiewebwerwe geadverteer.
Die slenter behels glo dat die aansoekers geld moet inbetaal om seker te maak dat hul aansoeke suksesvol is.
Die polisie het die publiek gewaarsku om nie vir dié slenter te val nie. “Daar is tans geen polisieleerling-betrekkings in die SAPD beskikbaar nie,” het Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, in ʼn verklaring gesê.
Naidoo het verder gesê dat hulle beslis nie betrekkings deur middel van SMS’e sal adverteer nie. “As daar wel betrekkings beskikbaar is, sal dit in koerante geadverteer word en die aansoekvorms is dan gratis beskikbaar by enige polisiekantoor.”
Volgens Naidoo is ʼn ondersoek van stapel gestuur om die skuldiges aan die pen te laat ry.