ʼn Bejaarde boer van Aberdeen in die Oos-Kaap is Donderdagaand koelbloedig in sy huis doodgeskiet.
Ao. Wessel Cronje, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die 75-jarige man het alleen op die plaas gewoon. “Die man se liggaam is vermoedelik deur een van die bure in sy huis aangetref. Hy is ses keer in sy bolyf geskiet,” het hy gesê.
Volgens Cronje kon die boer daarin slaag om iemand te bel om hulp te ontbied voordat hy dood is. “Volgens die inligting wat in hierdie stadium beskikbaar is, was daar omstreeks 21:00 ʼn klop aan die deur en die man het oopgemaak. ʼn Enkele verdagte was by die deur en het die man geskiet. Tussendeur kon die man op ʼn manier daarin slaag om iemand te bel voordat hy finaal doodgeskiet is. Die presiese verloop van gebeure word nog deur die polisie ondersoek,” het hy gesê.
Die verdagte het glo in die oorledene se bakkie gevlug, maar is in die pad wat voor die plaas verbyloop deur een van die inwoners in die gebied voorgekeer wat die bakkie herken het. “Die verdagte het stilgehou, uit die bakkie gespring en weggehardloop,” het Cronje gesê.
“Daar is ʼn vuurwapen op die toneel gevind, maar dit is nie duidelik wie se vuurwapen dit is nie en ook nie of dit die vuurwapen is wat gebruik is in die uitvoering van die moord nie.”
Cronje het gesê niks is tydens die aanval gesteel nie en die polisie ondersoek bewerings dat die verdagte ʼn voormalige plaaswerker is. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die slagoffer se naam is aan Maroela Media bekend, maar ons wil dit nog nie bekend maak voor ons bevestiging het dat alle naasbestaandes in kennis gestel is nie. – Red.