Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Goeie nuus: Charlie weer terug by die huis

$
0
0
Charlie Duvenhage. Foto: Verskaf

Charlie Duvenhage. Foto: Verskaf

ʼn Dankbare ma van Witbank in Mpumalanga is Donderdag, byna twee maande sedert haar 25-jarige seun in die Kameeldrift-omgewing oos van Pretoria verdwyn het, weer met hom herenig.

“Dit was twee maande van hel en onsekerheid. Ek het naderhand die ergste verwag. Ek kon nie behoorlik eet of slaap nie. Ek het gisteraand vir die eerste keer ordentlik geslaap,” het Amanda Duvenhage Vrydag aan Maroela Media gesê nadat Charles Nicolaas “Charlie” Duvenhage self by sy ouerhuis opgedaag het.

“Ek was histeries toe ek hom sien. Ek kon dit nie glo nie en het erg begin huil uit dankbaarheid. Hy was vuil, gehawend, maer en het nog dieselfde klere aangehad waarin hy die laaste keer gesien is.”

Sy het gesê sy het Charlie dadelik laat bad terwyl sy vir hom kos gemaak het. “Hy het gister meestal geslaap en is vandag baie beter,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Charlie woon saam met sy ouers op Witbank in Mpumalanga. Hy het ’n tweelingbroer en vier ander broers en susters.

Hy het op 7 Oktober saam met sy ouers van Witbank na Pretoria gery om sy suster se kinders terug te neem, nadat die kinders tydens die skoolvakansie by hulle gekuier het. Die suster woon op ʼn kleinhoewe in die Paardefontein-omgewing. Amanda se motor het onklaar geraak en hulle het die aand by Charlie se suster oornag.

Charlie het hom vermoedelik op 8 Oktober vir iemand vererg en wou moontlik om 17:30 van sy suster se kleinhoewe na Witbank ryloop. Hy het geen geld, beursie, identiteitsdokument, selfoon of ander besittings by hom gehad toe hy die laaste keer gesien is nie.

ʼn Vermistepersone-saak is by die Kameeldrift-polisie aanhangig gemaak, nadat hy nooit by die huis opgedaag het nie.

Bewerings word ondersoek dat Charlie die aand wat hy vermis geraak het, wel probeer het om na sy ouerhuis te ryloop. “Hy het gesê dat hy op die grondpaaie in die gebied verdwaal het. Hy ken nie die omgewing nie en dit was donker. Hy het op een of ander manier by ʼn hoofpad uitgekom en is daar glo deur die polisie in hegtenis geneem omdat hy op ʼn hoofpad geryloop het.”

Hy beweer hy is na ʼn polisiekantoor van ʼn informele nedersetting geneem en is daar aangehou. Hy het ná sy vrylating met landelike paaie probeer terugkeer na Witbank omdat hy nie weer op ʼn hoofpad wou ryloop nie.

“Hy is nog baie verward, maar ek het ʼn vriendin in die polisie wat my gaan help om vas te stel of dit waar is.”

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het Vrydag aan Maroela Media gesê Charlie se bewerings sal ondersoek word en is kommerwekkend as dit waar is.

“Ons sal agter die kap van die byl kom en daarvolgens optree. Al wat nou saak maak is dat hy veilig terug is by die huis. Sy ma was baie emosioneel toe sy hom gesien het en het ons dadelik in kennis gestel toe hy daar opgedaag het. Ons is saam met haar bly,” het sy gesê.

Rechner het almal bedank wat gehelp het om na hom te soek, selfs mense wat inligting oor hom op sosiale media gedeel het om bewusmaking te skep.

Maroela Media het die polisie vir kommentaar genader en wag vir terugvoer.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!