
Minister Mthethwa tydens die bekendstelling. Foto: Facebook
Volksblad plaas vanoggend ’n regstelling op ’n berig wat gister die loop geneem het. Volgens die oorspronklike berig het die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, “aangekondig” dat die naam van die Anglo-Boere-oorlog (ABO) amptelik na die Suid-Afrikaanse Oorlog verander is.
Vanoggend blyk dit dat die minister bloot by ’n geleentheid by die ABO-museum gesê het die naam van die museum kan in die toekoms na die Suid-Afrikaanse Oorlogsmuseum verander word.
Intussen is stoom wyd afgeblaas oor die “naamsverandering”. Daar is onder meer op gewys dat die naam Anglo-Boere-oorlog deur gebruik gevestig is, en dat dit nie ’n amptelike naam is nie. Die regering kan dit ook nie ’n amptelike naam gee nie. Dit het oor die jare immers ook as die Tweede Vryheidsoorlog, die Boere-oorlog en selfs die Engelse oorlog bekend gestaan.
Te midde van die volgehoue pogings om plekname sonder behoorlike oorlegpleging te verander – ’n proses wat al as kulturele imperialisme beskryf is en indruis teen die gees van die Nasionale Vredesakkoord – het die “aankondiging” galsterig afgegaan.
Nie dat die naam vreemd is nie. Op RSG is al na “die Suid-Afrikaanse Oorlog, voorheen bekend as die Anglo-Boere-oorlog” verwys. Dis reeds in handboeke opgeneem en deur historici as ’n fout uitgewys.
Naamsveranderinge is internasionaal ’n sensitiewe kwessie. Ongeveer honderd jaar gelede is die hoogste bergpiek in Noord-Amerika na die berg McKinley, ’n politikus, herdoop. Na raming het die berg toe reeds sowat 10 000 jaar lank as Deenaalee, en later volgens die anglisering daarvan, Denali, bekend gestaan. Deenaalee beteken “die lang of hoë een” in een van Alaska se inheemse tale, en ongeveer tien ander tale het ’n soortgelyke uitspraak daarvoor.
In Alaska het min mense na die berg McKinley verwys en die oorspronklike naam bly gebruik, baie soos ’n mens aantref in die name van gemeentes en skole wat die ou name, byvoorbeeld Pietersburg, in hul eie name bly behou. Die natuurpark om die berg het byvoorbeeld amptelik die naam van Denali gekry.
Op 30 Augustus vanjaar het pres. Barack Obama uiteindelik, ná jare lange veldtogte deur voorstanders van die naam Denali, aangekondig dat die berg sy ou naam terugkry. En dadelik was daar lang lippies by sommiges wat die naam McKinley wou behou.
Een van die hoofbesware teen die naam “Suid-Afrikaanse oorlog” is dat dit die aandeel van die Engelse, die aggressors, verswyg. Die oorweging vir die gebruik van die naam word gemotiveer deur aan te voer dit weerspieël nie die rol van swart mense in die oorlog nie.
Dit is inderdaad ’n feit dat geskiedskrywing oor die rol van swart mense in Suid-Afrikaanse konflik nie altyd suiwer was nie. In ouer bronne, soos Drie Eeue, word redelik breedvoerig berig oor die rol van swart en bruin mense aan die kant van die Voortrekkers in die laer van Bloedrivier. Dit sluit onder meer ’n kontingent swart skerpskutters van Port Natal in wat Alexander Biggar saamgeneem het om die moord op sy seun te wreek.
Latere bronne verwys nie na hierdie kontingent nie, maar net na die bruin “bediendes” en na ’n ondergeskikte rol soos om die voorlaaiers te help laai. Later is hierdie groep ook in skoolleerplanne verswyg.
Eers betreklik onlangs het die swart betrokkenheid in die laer van Bloedrivier weer bronne aangehaal wat die geskiedenis objektief probeer weergee, en is kennis oor die swart konsentrasiekampe in die ABO afgestof.
Die herstel van die werklike geskiedenis gaan egter soms met moeite gepaard. Betreklik onlangs het ’n teoloog en akademikus in ’n kerklike publikasie vreeslik te velde getrek teen mense wat nie meer hul geskiedenis ken nie. Hy het oor Bloedrivier geskryf, en die teenwoordigheid van swart mense verswyg, maar ook geskryf oor die vroue en kinders in die laer. Andries Pretorius het egter vroue en kinders belet om saam op die strafkommando te vertrek.
Uit ’n rekonstruksie van die geskiedenis, soos onder meer opgeteken deur die gerespekteerde Theal McCall, blyk dit dat die gebied waar Bloemfontein vandag geleë is, reeds voor die Brits-gesin dit by die fontein gevestig het, die naam gehad het. Die oorsprong van die naam word gegee as Jan Bloem, ’n Koranna-hoofman wat nou nie juis by die letter van die wet gehou het nie. Nuwe bronne bespiegel egter steeds oor die herkoms van die naam en beperk dit tot die aanwesigheid van die Brits-gesin.
Kortom, die objektiewe weergee van die geskiedenis verskil dikwels van die geïdealiseerde weergawe daarvan – en dit is ’n tweesnydende swaard. Met ander woorde, die weergawe wat die regering aan die land wil opdwing, is dikwels ook meer propagandisties van aard as op feite geskoei. Die ou spreekwoord lui immers dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf (of dan herskryf).
’n Goeie voorbeeld is die aanspraak dat die ANC apartheid oorwin het. Die laaste apartheidswet is egter reeds lank voor 1994 uit die wetboek verwyder, en streng gesproke het daar uit die Kemptonparkse Vredesonderhandelinge nie ’n wenner of verloorder (in militêre sin) na vore getree nie. Wie vir wie by die onderhandelinge ore aangesit het, en daarna verkiesings oorheers het, is natuurlik ’n ander kwessie.
Op Solidariteit se Facebookblad skryf Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging: “Daar het hierdie jaar twee dinge vir my duidelik geword. Die eerste is dat die ANC nie kan regeer nie, en die tweede dat Afrikaners nie kan struggle nie. Die eerste probleem spreek vanself. Julle kan ook maar oor die tweede probleem ontspan. Ek bedoel nie dat julle moet leer toi-toi nie – ek hou juis nie veel van dans nie – en party van ons sal net hulself beseer! Met struggle bedoel ek dat ons sal moet leer om standpunt in te neem wanneer dit nodig is.”
En nadat die foutiewe berig die lig gesien het, het Afrikaners en hul kultuurorganisasies en ’n politieke party, die VF Plus, oor ’n wye front standpunt ingeneem. Dis nie sommer net vir vat nie.
Afrikaans se stryd teen kulturele imperialisme is nog lank nie verby nie. Die aanslag op universiteite toon ook dat daar, soos met die ABO, genoeg vyfdekolonners is – sommiges skynbaar eerlik van mening dat hul standpunt die korrekte is.