
Argieffoto
Die twee weke lange staking wat Johannesburg in ’n vullishoop verander het, is beëindig.
Die werkers van Pikitup, wat gekontrakteer is om vullisverwydering in dié stad te doen, het salarisverhogings van tussen R6 000 en R10 000 per maand geëis. Hulle het ook die bedanking geëis van Amanda Nair, die besturende direkteur van Pikitup.
Nadat Jacob Mamabolo, LUR van plaaslike regering, Donderdag ingegryp het, is die staking beëindig. “Die partye het ooreengekom om die ongerief van rommel wat nie verwyder is nie, saam met die wettige eise van werkers op ʼn vreedsame wyse te beding,” het Mamabolo gesê.
Volgens Matshidiso Mfikoe, LUR van omgewings en infrastruktuur, hoop die stadsraad om die rommel so vinnig moontlik te verwyder. “Inwoners moet net asseblief daarop let dat ons met ʼn geweldige agterstand te doen het,” het Mfikoe gesê.
Pikitup se werkers sal weer Vrydag terugkeer na hulle werk.
Lees alle vorige berigte oor Pikitup op Maroela Media.