Terwyl die stad Johannesburg spook om sy strate weer op te ruim sedert die staking van die vullisverwyderingsmaatskappy Pikitup opgeskort is, is die stad Donderdag in Parys in Frankryk bekroon met ʼn toekenning van die C40 Cities.
Die C40 Cities-toekennings word jaarliks tydens COP21, die internasionale klimaatberaad wat tans in Parys plaasvind, toegeken aan stede wat klimaatsverandering doeltreffend bestuur.
Volgens Phindile Chauke, woordvoerder van die Johannesburgse stadsraad, is die toekenning Donderdag deur Geaff Makhubo, namens die stadsraad, in Parys tydens die COP21-beraad in ontvangs geneem.
Michael R Bloomberg, C40-president en die Verenigde Nasies (VN) se spesiale gesant oor klimaatsverandering, het gesê “die toekennings erken stadsrade wat op ʼn doeltreffende manier die klimaatsveranderingkwessie takel”.
Johannesburg was onder die top-10 stede wat by die derde jaarlikse toekenningseremonie vereer is. Van die ander wenners sluit in Boston, Rotterdam en Nanjing.