
Argieffoto.
Minstens 15 mense is beseer en 77 is vir waarneming na verskeie hospitale geneem nadat daar Dinsdagoggend ʼn ontploffing op ʼn passasiertrein naby Irene suid van Pretoria was.
Lillian Mofokeng, woordvoerder van Metrorail, het aan Maroela Media gesê die trein was van Johannesburg na Pretoria onderweg toe die voorval omstreeks 08:00 by die Pinedene-treinstasie plaasgevind het.
“Die trein het by die stasie stilgestaan toe daar ʼn elektriese probleem tussen die trein en oorhoofse kabels ontstaan het,” het Mofokeng gesê.
“Dit het ʼn harde ontploffing tot volg gehad en daar was ook sigbare vonke. Die mense is beseer toe hulle paniekbevange uit die trein gespring het.”
Paramedici van verskeie nooddienste het die beseerdes op die toneel behandel en na verskeie hospitale geneem. Niemand is ernstig beseer nie.
“Die toneel is reeds opgeruim en daar is nie ʼn vertraging in treindienste nie,” het Mofokeng bygevoeg.