
Foto: SAPD/Facebook
“Daar word beweer dat die 33-jarige man Vrydag sy vrou vermoor het by hulle huis in Langenhovenpark in Bloemfontein. Hy het toe glo met die lyk na sy ouers se huis in Winburg gery waar hy die lyk vir die naweek gehou het,” het Ian Gaobepe, woordvoerder van die polisie, gesê.
Volgens Gaobepe het die verdagte glo Sondagoggend na ʼn stortingsterrein gery waar hy sy vrou se liggaam aan die brand gesteek het. “Mense wat in die omgewing woon het verdag geraak en gesien dis ʼn menslike liggaam wat aan die brand gesteek het.”
Die polisie is ontbied en het hulle na die stortingsterrein gehaas waar hulle bevestig het dat die gebrande oorskot dié van ʼn mens is. “Die man en sy voertuig is deur middel van kringtelevisiebeeldmateriaal geïdentifiseer waar hy brandstof by ʼn nabygeleë vulstasie gekoop het.”
Volgens Gaobepe is die man ure hierna by ʼn huis in Makeleketla in hegtenis geneem. Die verdagte sal Woensdag in die Winburg-landdroshof verskyn.