
Foto: SAPD, Facebook
Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte is deur sy regsverteenwoordiger oorgegee en deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat in hegtenis geneem.
Volgens Ramaloko word die 30-jarige konstabel daarvan beskuldig dat hy Sondag ʼn onderwyser in Tlhabologang vermoor het. Hy het glo die 26-jarige onderwyser saam met sy vriendin in die bed betrap waarna hy hom sou doodgeskiet het.
Die konstabel het glo sy vriendin saam met hom geneem toe hy gevlug het, maar het haar later ongeskonde teruggebring. “Dit is nog nie duidelik of hy sy amptelike vuurwapen tydens die voorval gebruik het nie,” het Ramaloko gesê.
Genl.maj. Jacob Tsumane, waarnemende polisiehoof in Noordwes, het die voorval veroordeel. “Ons kan nie toelaat dat ons misdaadbestryders self by enige kriminaliteit betrokke is nie. Ons het die verantwoordelikheid om kriminele aan die pen te laat ry.”
Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn.