
Foto: SAPD, Facebook
Die liggaam van ʼn 12-jarige seun is Saterdag by ʼn besnydenisskool in Rooigrond naby Mahikeng in Noordwes gevind.
“Daar word verneem dat die seun, ʼn dorpeling van Verdwaal, se liggaam omstreeks 14:00 deur die skool se onderwyser aangetref is,” het sers. Kealeboga Molale, provinsiale polisiewoordvoerder, Maandag gesê.
“Tydens ondervraging het die onderwyser gesê dat die seun verlede Sondag [22 November] deur onbekende mans van dieselfde dorpie aangerand is. Daar was brandwonde aan sy liggaam asook wonde wat deur ʼn sambok veroorsaak is.”
Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur om die oorsaak van die seun se dood te bepaal, waarna ʼn saak van moord moontlik ondersoek gaan word.