
Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS
Kommentators het al Suid-Afrika om ’n wye verskeidenheid redes ’n muishondland genoem. Die hantering van die Omar al Basjir-saak, verskuilde steun vir die IS deur sy stem in ’n mosie teen die IS se wreedhede te weerhou, Mianmar en vele meer.
Die voorbeelde raak net al hoe meer. Pas het SA geweier om ’n VN-mosie oor menseregte te steun, en die “verskoning” hiervoor wil maar nie vlerke kry nie. Omtrent dieselfde tyd het die Suid-Afrikaanse missie in Genève hom aan die opperste diplomatieke varkerigheid skuldig gemaak deur nie net die Vryheidsfront Plus se voorlegging te probeer keer nie, maar almal wat hierdie voorlegging, asook die TLU SA en AfriForum se voorleggings steun, as rassiste en hunkerend na apartheid af te maak.
Die aanvanklike aanklank by muishondlande het reeds tydens die bewind van Nelson Mandela begin, met seker die omhelsing van Ghaddafi die beste voorbeeld. Onder die ander wat so omhels is, was Robert Mugabe, maar ook ander wie se menseregterekord en verbintenis tot demokrasie gestink het.
Dit is egter deur die ANC buite debat geplaas. Dis mense en lande wat Suid-Afrika deur die stryd teen die vorige bedeling gehelp het.
Sedertdien, en veral die afgelope jaar of so, duik sake wat Suid-Afrika se muishondbeeld bevestig al hoe vinniger op, en die “redes” wat Suid-Afrika vir die optredes en uitsprake verskaf, raak al hoe meer bisar.
Vroeër vanjaar het Zuma ook buitelandse diplomate wat in SA gesetel is, voor stok gekry, onder meer oor die Siriese vlugtelingkrisis.
Presies hoe ver Zuma en sy kornuite die bal misslaan, blyk uit ’n stelling in Junie vanjaar. Toe het Zuma gesê die ANC het sy belofte gehou deur vir almal ’n beter lewe te skep. Hy het onder meer daarop aanspraak gemaak dat sy regering indiensneming verbeter en werkloosheid laat verminder het.
En toe die juweeltjie: “Binne 19 jaar het ons gevorder van ’n muishondland tot ’n wonderlike nasie met ’n visioenêre buitelandse beleid wat ons verhoudinge met ander lande bevorder.”
Adv. Anton Alberts van die VF Plus het pas ’n ander perspektief gegee deur te meld hierdie skip van Zuma neem nou vinnig water in, en dit is onbetwisbaar dat die mees ontwikkelde land in Afrika binne twee dekades onder ANC-bestuur dermate verval het dat die land talle “eerstes” in sy geskiedenis beleef. Van hierdie bedenklike “prestasies” is:
- Vir die eerste keer staan die land voor ’n fiskale afgrond;
- Vir die eerste keer huiwer die land op die rand van rommelstatus;
- Vir die eerste keer word korrupsie as sistemies geag;
- Vir die eerste keer stel ’n regering sanksies teen homself in weens beleid en wette wat beleggers wegstoot, byvoorbeeld die Wet op Beleggingsbeskerming;
- Vir die eerste keer word boere en plaaswerkers sodanig in groot getalle vermoor dat voedselsekerheid nadelig beïnvloed word;
- Vir die eerste keer het die land nie die grootste ekonomie in Afrika nie;
- Vir die eerste keer het die regering nagelaat om te sorg dat die land se infrastruktuur (soos kragverskaffing) voldoende is vir sy mense se behoeftes;
- Vir die eerste keer is nagelaat om waterstelsels in stand te hou en om voorsiening te maak vir droogte;
- Vir die eerste keer in hedendaagse geskiedenis is die groeikoers onder 2% per jaar;
- Vir die eerste keer is rekord-laagtepunte teenoor ander geldeenhede bereik;
- Vir die eerste keer skep die staat meer werk as die private sektor;
- Vir die eerste keer kan gesê word fiskale beplanning is niks anders nie as ’n Ponzi-skema weens ’n krimpende ekonomie en groeiende staatsuitgawes.
Die jaarlikse rapport wat die amptelike opposisie, die DA, aan Zuma en sy kabinet toegeken het, kon beswaarlik swakker wees. Zuma en verskeie van sy ministers kry ’n F-minus-toekenning vir hoe hulle hul portefeuljes hanteer. Selfs daar waar die DA goeie punte toegeken het, soos aan min. Naledi Pandor, moet vraagtekens hang, onder meer oor haar rol dat haar departement en agentskappe Afrikaans as amptelike taal uit hul werksaamhede wil verwyder.
Dis nie lekker om op ’n blou Maandag ’n skoot sulke negatiewe inligting in die gesig te kry nie. Die skryf van elke nuuskommentaar word egter voorafgegaan deur ’n soektog, ook deur buitelandse media, na temas wat ’n positiewe klank het. Maar so iets, veral waarby Suid-Afrika betrokke is, is bedroewend min.