
Argieffoto (Pixabay)
ʼn Nigeriër wat homself glo as ʼn dokter voorgedoen het en van korrupsie en oortreding van Suid-Afrika se immigrasiewette aangekla word, se borgtogaansoek is Dinsdag in die Polokwane-landdroshof goedgekeur.
Anthony Nwuafor het glo vervalste dokumente gebruik om jare lank as ʼn dokter in Polokwane in Limpopo te praktiseer. Hy was in Pretoria bedrywig toe hy op 6 November in hegtenis geneem is.
Nwuafor is vrygelaat op borgtog van R5 000 nadat hy die hof Dinsdag oortuig het dat hy nie ʼn vlugrisiko is of by die ondersoek sal inmeng nie.
Landdros Dayoff Mashapu het die staat se bewering, dat Nwuafor ʼn vlugrisiko is, verwerp. “Die moontlikheid dat die beskuldigde dalk sal vlug, is nie gegrond nie,” het hy gesê.
Die staat wou hê Nwuafor moet in aanhouding bly totdat die staat afgehandel is, en het aangevoer dat hy ʼn vlugrisiko is, aangesien hy oor burgerskap beskik met teenstrydige inligting. Die hof het vroeër Dinsdag gehoor die departement van binnelandse sake het aangedui hy is in 1965 gebore, terwyl ander dokumente daarop wys dat hy in 1966 gebore is.
Nwuafor het ook beweer hy het ʼn egskeidingsbevel bekom, maar dokumente wys daarop dat sy egskeidingsdokumente vervals is.
Tydens die aansoek om borgtog het dit aan die lig gekom dat hy twee keer binne twaalf maande getrou het, maar hy ontken dit. Hy voer aan sy huwelik met ʼn Nigeriese vrou was “onwettig” toe hy met ʼn Suid-Afrikaanse vrou getrou het.
Mashapu het gesê hy is verras dat daar nie enige aanklagte van bedrog gebring is wat die beskuldigde se huwelikstatus betref nie.
Nwuafor (50) was saam met sy vrou en Fareida Mall in die hof. Aanklagte teen sy vrou is teruggetrek en Mall is vrygelaat op borgtog. Die staat voer aan hy het R50 000 aan Mall oorhandig om sy gekonfiskeerde reis- en identiteitsdokumente terug te kry nadat die departement van binnelandse sake daarop beslag gelê het. Die staat voer aan Nwuafor se omkoopgeld was ʼn poging om ʼn ondersoek oor sy burgerskap te verhoed.
Mashapu het egter gesê indien Nwuafor wou vlug, kon hy dit al vroeër gedoen het, aangesien hy geweet het hy word al die afgelope vyf jaar lank ondersoek.
As deel van sy borgtogvoorwaardes moet Nwuafor twee keer per week, op Maandae en Vrydae, by die Sunnyside-polisiestasie in Pretoria aanmeld. Hy mag ook nie Suid-Afrika verlaat sonder om die ondersoekbeamptes in kennis te stel nie.
Die saak is uitgestel tot 13 Januarie.
Lees alle vorige berigte oor Anthony Nwuafor op Maroela Media.