
Nehawu-betoging by die parlement (November 2015) Foto: Twitter
Die bestuur van die parlement het Dinsdag gewaarsku hulle sal nie huiwer om die polisie te ontbied om stakende werkers te verwyder wat LP’s se werk beïnvloed nie.
Maroela Media het vroeër berig twee parlementêre sittings en komitees moes verdaag toe stakers in die Nasionale Vergadering se openbare galery bymekaargekom het.
Speaker Baleka Mbete het gesê terwyl die onderhandelinge met die National Education, Health and Allied Workers Union (Nehawu)-vakbond voortduur, sal geen verdere onderbrekings geduld word nie.
Mbete het gesê sy sal kragtens die Wet op die Bevoegdhede, Voorregte en Immuniteite van die Parlement en Provinsiale Wetgewers die land se veiligheidsmagte ontbied om, enigiemand wat sittings of komiteevergaderings onderbreek, te verwyder. “Ons sê nou dit is tot sover en nie verder nie en ons het die polisie uitdruklik die mag gegee om in te gryp,” het sy gesê.
Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, het gesê dit is onaanvaarbaar dat stakende werkers inmeng en die werk van die staat onderbreek.
Maroela Media het vroeër berig twee stukke wetgewing, die Aansuiweringsbegrotingwetsontwerp en die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste, is in die weegskaal as gevolg van die staking.
Mbete het die versekering gebied dat niks in die pad sal staan om hierdie twee stukke wetgewing af te handel nie.
Ondanks die dreigement van polisie-optrede het stakers onderneem om Woensdagoggend weer na die parlement terug te keer om verder druk te plaas op die bestuur om gehoor te gee aan hul versoek vir groter prestasiebonusse.
Lees alle vorige berigte oor die parlement op Maroela Media.