
Die verdagtes wat op 23 November 2015 in Sidwell, Port Elizabeth, aangekeer is Foto: SAPD, Oos-Kaap
Vier mans verskyn Woensdag in ʼn hof in Port Elizabeth nadat hulle glo ʼn substasiewerker se Hilux-bakkie gesteel, en kort daarna aangekeer en in hegtenis geneem is.
“ʼn 33-jarige man was Maandag besig om by ʼn substasie in Commercialweg, Sidwell, te werk toe twee verdagtes hom met ʼn mes gedreig het,” het kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Hulle het die man deursoek en sy beursie en motorsleutel gesteel. Die man kon homself in die substasie toesluit en die verdagtes het met sy Toyota Hilux weggery.”
Volgens Janse van Rensburg is inligting oor die voertuig vinnig deur radiobeheer versprei.
“Lede van die polisie het kort daarna die voertuig op die M17 naby Motherwell opgemerk en ondersteuning versoek,” het sy bygevoeg. “Die voertuig het weggejaag en tydens ʼn hoëspoedjaagtog het die polisiebeamptes gesien die verdagtes het ʼn vuurwapen. Hulle het op die polisiebeamptes probeer skiet.”
Die voertuig het stilgehou en die verdagtes het vanuit die motor steeds op die polisiebeamptes geskiet. “Die beamptes het teruggeskiet en die verdagtes uit die voertuig gedwing.”
Vier verdagtes, tussen 21 en 25 jaar oud, is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op die vuurwapen. Daar is later bepaal dat die vuurwapen aan die slagoffer behoort.
Janse van Rensburg het gesê die verdagtes sal Woensdag in die New Brighton-landdroshof verskyn op aanklag van kaping en poging tot moord.
Genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van die Mount Road Cluster, het die lede geloof vir hul vinnige reaksie.

Die slagoffer se vuurwapen wat in die motor gevind is nadat hy in Port Elizabeth gekaap is Foto: SAPD, Oos-Kaap