
Een van die “jetpacks” word vertoon Foto: Gizmag
Dubai se departement van burgerlike beskerming het ’n memorandum van verstandhouding met Martin Aircraft Company gesluit om 20 stralerpakke (“jetpacks”) en twee opleidingsimulators te lewer. Die ooreenkoms sluit opleiding in.
Die idee is om die stralerpakke te gebruik vir brande en ander noodgevalle in die land se talle wolkekrabbers. Die stralerpakke wat bestel is, kan vragte van tot 120 kg dra, en kan ook deur afstandbeheer hanteer word, berig Gizmag.
In ’n vroeëre uitgawe van Gizmag is berig dat die firma Jetpack Aviation sy nuutste model op skouspelagtige wyse bekend gestel het waar die vlieënier om die Statue of Liberty in New York gevlieg, en ook voor die standbeeld gaan stil hang en gesalueer het. Hierdie tuig bied sowat 10 minute vliegtyd en kan baie hoog en vinnig vlieg. Dit is baie meer kompak as die model van Martin Aircraft Company maar is nog nie kommersieel beskikbaar nie.