
Argieffoto
Die regering in Mpumalanga het glo R24 miljoen aan luukse voertuie vir tradisionele leiers bestee, maar geen geld vir droogtehulp beskikbaar gestel nie.
Volgens die DA het dit aan die lig gekom tydens die aanpassingsbegrotingsrede wat Vrydag gelewer is. Bosman Grobler, DA-lid vir die provinsiale wetgewer, het in ’n verklaring gesê dat 62 voertuie vir tradisionele leiers aangekoop en verlede week afgelewer is.
“Die DA is van mening dat die ANC stemme probeer koop met die voertuie. Die begroting is aangepas met R24 miljoen vir die aankoop van die voertuie, dít terwyl geen geld toegeken is vir droogtehulp nie.”
Grobler het gesê die DA is ook besorg oor die gebrek aan finansiering vir droogtehulp en die feit dat geen bykomende finansiering vir landbourolspelers toegeken is om voedselsekerheid te verseker nie. “Droogtehulpfinansiering word deur die premier weerhou om redes wat onbekend is aan die party.” Volgens die DA is R1 miljoen toegeken vir ʼn amptelike voertuig vir die speaker.
Die DA het egter die R3,8 miljoen wat toegeken is vir loonverhogings vir staatswerkers verwelkom en regeringsdepartemente aangemoedig om bekwame mense aan te stel in vakante betrekkings. “Ons verwelkom ook die R60 miljoen wat toegeken is aan die provinsiale departement van gesondheid ten einde die agterstand in ortopediese chirurgie in die provinsie reg te stel.”
Die DA het gesê hy is steeds daaraan toegewy om die regering verantwoordelik te hou vir alle besluite en planne wat hulle maak en uitvoer. Die party meen dat geen waarde aan beplanning geheg kan word indien daar ʼn gebrek aan uitvoerbaarheid is nie.