
Argieffoto: ER24
Altesaam 44 mense is Sondagaand beseer nadat ʼn bus in die Kranspoort-omgewing naby Middelburg in Mpumalanga teen die kant van ʼn berg gebots het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die botsing het langs die N11-pad plaasgevind.
“Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor, waarna dit die pad gedeeltelik verlaat en gebots het,” het Meiring gesê. “Met paramedici se aankoms het hulle die passasiers buite die bus aangetref. Die insittendes het geringe tot matige beserings opgedoen. Gelukkig het niemand ernstige of noodlottige beserings opgedoen nie.”
Die mense is op die toneel behandel en na verskeie provinsiale hospitale geneem vir verdere behandeling en waarneming.