Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Staking by parlement hervat weer

$
0
0
Nehawu-betoging by die parlement (November 2015) Foto: Twitter

Nehawu-betoging by die parlement (November 2015) Foto: Twitter

Werkers by die parlement sal Maandag weer hul staking hervat, het die National Health, Education, and Allied Workers (Nehawu)-vakbond Sondagaand gesê.

Werkers in die parlement, waarvan die meerderheid aan Nehawu behoort, hervat hul staking ná Vrydag se “teleurstellende verslag” deur die taakspan, het Sthembiso Tembe, takvoorsitter van Nehawu, in ʼn verklaring gesê.

Die taakspan het bestaan uit drie lede elk van Nehawu en van die bestuur van die parlement en is saamgestel om ʼn plan te beraam hoe om ʼn ooreenkoms tussen die twee partye van krag tot uitvoer te bring. Die staking in die parlement is verlede Dinsdag opgeskort, nadat die ooreenkoms bereik is, op voorwaarde dat die taakspan ʼn verslag kan aanbied “wat die moeite werd is om deur die werkers oorweeg te word”.

“Werkers het gesê die taakspan moes persentasies voorstel wat gebruik kan word om prestasiebonusse te bepaal, die datum bekend maak wanneer prestasiebonusse betaal sal word, en indien die parlement nie al die geld nou vir die kwalifiserende werknemers kan betaal nie, aandui hoeveel hulle nou kan betaal en wanneer die res betaal sal word,” het Tembe verduidelik. “Dit het ongelukkig nie gebeur nie en die werkers voel hul besware word nie ernstig opgeneem nie. Daarom het ons besluit om die staking te hervat tot ʼn lewensvatbare plan voorgelê word.”

Volgens Tembe sal ʼn vergadering na verwagting Maandag tussen die partye belê word om die pad vorentoe te bepaal.

“Die Nehawu-leierskap in die parlement is vol verwagting dat ʼn oplossing vinnig bereik sal word, om te verhoed dat die staking voortduur en seker te maak dat werk in die parlement ononderbroke kan hervat,” het hy bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor die staking by die parlement op Maroela Media.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621